Kliek hier om "Acrobat Reader" af te laai !
Kliek hier om JAVA te kry.

 

Woorde: Ansie du Plessis

Musiek: Christa Steyn

 

As die lente oor die velde

in 'n asem groen ontwaak,

leer en speel ons in ons eie,

word die toekoms oopgemaak.

Om die kampvuur; in die stiltes,

weef ons drome in die wind,

strek ons uit na horisonne

sal die hoop ons saam verbind.

 

KOOR

Hou koers! Hou koers!

Deel die liefde vir ons land.

Hou koers! Hou koers!

Pluk die toekoms, vat my hand.

 

 

 

Verkenners:

As die son se môreklanke

saggies in my oor kom lê,

kies my voete wandelpaaie,

weet ek wat my siel wil hê.

Oor die vlaktes, deur die ruimtes,

my spore ankervas,

volg ek bly my volk se roetes

met geloof se klein kompas.

 

KOOR

 

Volwassenes:

As die somer in sy glorie

my op tenger halms rig,

reik my hand in diepe ootmoed

na die sekel van my plig.

Erf my kennis, leef my vreugde,

volg die sterre in hul baan,

voel die polsslag van die lewe,

loof die Bron van ons Bestaan.

 

KOOR

 

 

 
 

Vrae of probleme in verband met hierdie Webblad moet gestuur word aan webmeester@voortrekkers.org.za
Kopiereg:  Die Voortrekkers.    

Alle regte voorbehou.